Gereelde vrae

Vrae? Kyk hier.

Waar lê die HBNR?

L
K

Die Heroldsbaai Natuurreservaat beslaan ongeveer 300 hektaar grond rondom die Voëlklip-gebied naby Heroldsbaai. ’n Gedetailleerde kaart van die grense en toegangspunte is beskikbaar op die “Besoek en Toegang”-bladsy.

Sal die HBNR vir die publiek toeganklik wees?

L
K

Absoluut! Al word dit ingevolge nasionale wetgewing as ’n privaat natuurreservaat geklassifiseer, is die Heroldsbaai Natuurreservaat oop vir almal om te geniet. Openbare toegang is ’n belangrike deel van die projek, sodat die gemeenskap steeds die natuurskoon van die gebied kan beleef en waardeer.

Wat is die doel van die HBNR? Waarom word dit in 'n natuurreservaat omskep?

L
K

Hierdie stuk grond is al vir dekades lank in ontwikkelaars se visier. Die reservaat is gestig om kritiek-bedreigde ekosisteme te bewaar, en die ekologiese integriteit van die gebied te beskerm. Dit sal ook geleenthede skep vir omgewingsbewustheid, navorsing en volhoubare toerisme. Dit is ’n langtermyn bewaringsprojek wat daarop gemik is om toekomstige geslagte te bevoordeel, met die ondersteuning en deelname van die plaaslike gemeenskap.

Wie gaan die reservaat bestuur?

L
K

Sodra dit formeel as ’n natuurreservaat verklaar word (ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Beskermde Gebiede – NEM:PAA), sal die reservaat deur ’n Bestuurspan bestuur word. Die Bestuurspan sal verantwoordelik wees vir daaglikse bedrywighede, bewaringswerk en roete-instandhouding, én vir die nakoming van die wetlike vereistes wat vir natuurreservate geld. Die Bestuurspan sal onder leiding van CapeNature werk, wat jaarliks oudits sal uitvoer om behoorlike bestuur en voldoening aan bewaringstandaarde te verseker.

Kan ek die reservaat besoek?

L
K

Ja, beslis! Die reservaat sal oop wees vir besoekers wat die omgewing verantwoordelik wil verken. Jy sal die staproetes, skilderagtige uitkykpunte en die Voëlklip-uitkykpunt kan geniet. Beheerde toegang (* sien hieronder) sal mettertyd ingestel word om te verseker dat die reservaat ongerep en veilig bly.

Wat beteken "beheerde toegang"?

L
K

Beheerde toegang beteken dat besoekers deur ’n paar duidelik aangeduide toegangspunte sal in- en uitgaan. Die hooftoegang word beplan waar die teerpad die grondpad ontmoet wat na die Voëlklip-uitkykpunt lei. Hierdie stelsel sal geïmplementeer word sodra die reservaat formeel verklaar is. Daar sal altyd toegang vanaf die “bospaadjie” vir besoekers te voet wees.

Waarom word toegang beheer?

L
K

Toegangsbestuur is noodsaaklik vir sowel veiligheid en bewaring. Wanneer besoekers deur bepaalde toegangspunte beweeg, help dit om sensitiewe gebiede te beskerm, rehabilitasiegebiede te beveilig en te sorg dat staproetes en parkeerruimtes netjies en goed in stand gehou bly.

Sal ek vrylik in die reservaat kan rondloop?

L
K

Die doel is beslis dat besoekers die reservaat te voet moet kan geniet, maar op ’n manier wat die omgewing beskerm. Een van die grootste uitdagings is om mense aan te moedig om op die aangeduide staproetes te bly, eerder as om hul eie paadjies deur die fynbos te maak. Daar sal goed gemerkte en goed onderhoude staproetes wees, met genoeg rusbankies en uitkykpunte sodat besoekers nie rede het om af te dwaal nie.

Om die reservaat netjies te hou, sal ons graag wil hê dat die gemeenskap moet help om oortredings, skade of rommel aan te meld – ons droom is om betrokke inwoners as soort “reservaatwagters” te gebruik.

Omdat die reservaat voortdurend deur ekologiese rehabilitasie en roeteontwikkeling gaan, sal sekere areas van tyd tot tyd gesluit wees. Maar daar sal altyd veilige, toeganklike paadjies wees om die natuur verantwoordelik te verken.

Kan ek steeds stap en verken?

L
K

Ja. Die gemerkte staproetes sal oop bly, en heelwat sal opgegradeer word om veiligheid en genot te verbeter. Die meeste roetes sal bestaande paadjies volg, en nuwes sal slegs geskep word wanneer dit absoluut noodsaaklik is om onnodige versteuring van die omgewing te vermy.

Sal die Voëlklip-uitkykpunt en ander uitkykpunte oop bly?

L
K

Ja. Alle uitkykpunte – insluitend Voëlklip – sal steeds oop en toeganklik bly vir besoekers wat te voet die aangewese paaie en roetes gebruik. Hierdie plekke is ’n belangrike deel van die besoekerservaring en sal in stand gehou word.

Wat van mense met loopgestremdhede? Sal hulle toegang tot die uitkykpunte hê?

L
K

Toeganklikheid is vir ons ’n prioriteit. Die uitkykpunt bekend as “Klein Voëlklip” sal oop bly vir besoekers wat die natuurskoon vanuit hul voertuie wil geniet. Daar is ook planne om die area te plavei om dit rolstoelvriendelik te maak, sodat almal die uitsigte kan waardeer.

Sal ek steeds in die reservaat kan visvang?

L
K

Ja. Visvang sal toegelaat word in aangewese gebiede vir besoekers met geldige permitte. Hengelaars sal te voet moet inloop en die gemerkte voetpaaie gebruik, met respek vir die bewaringsreëls. Vangste kan geïnspekteer word om die uithaal van bedreigde spesies te voorkom, in lyn met volhoubare visvangpraktyke.

Wat gaan met die pad na die Voëlklip-uitkykpunt gebeur?

L
K

Die pad gaan vir eers oop bly vir voertuie. Op die langtermyn sal motorvoertuie net tot by Klein Voëlklip kan ry, en van daar af sal die pad hoofsaaklik vir stappers en fietsryers bedoel wees. Parkering sal op sleutelplekke beskikbaar wees – onder andere by die Ou Steengroef, waar ’n besoekersentrum en ablusiegeriewe beplan word.

Waarom sal toegang tot motorvoertuie beperk wil word?

L
K

Navorsing en praktiese ervaring het getoon dat die meeste omgewingskade en onwettige aktiwiteite plaasvind waar motors maklike toegang het. Motors het bygedra tot die storting van puin en afval, rommelstrooiing by uitkykpunte, in die veld ry en die onwettige pluk van fynbos. Om toegang hoofsaaklik vir voetgangers en fietsryers te behou, help ons om die omgewing te beskerm en moedig meer verantwoordelike gebruik aan.

As die pad vir voertuie gesluit moet word, waar sal dit wees?

L
K

Die plan is dat voertuigtoegang beperk word vanaf Klein Voëlklip tot by die hoof-Voëlklip-uitkykpunt, maar ’n deursigtige konsultasieproses sal hieroor gevolg word. Let wel: slegs voertuigtoegang, nie voetgangertoegang nie.

Daar word (weer eens, hangende OIB”s en openbare deelname) voorsiening gemaak vir drie parkeerareas:

  • by die kruising waar die Voëlklip-grondpad die teerpad ontmoet,
  • by die Ou Steengroef naby Klein Voëlklip, en
  • ’n kleiner parkeerarea direk by Klein Voëlklip.

Besoekers sal by hierdie areas kan parkeer en dan te voet of per fiets die reservaat binnegaan. Geen parkering langs die pad sal toegelaat word nie.

Watter aktiwiteite sal in die reservaat plaasvind?

L
K

Die hoofaktiwiteit sal stap wees. Fietsry sal op die hoofgrondpad toegelaat word, maar nie op die staproetes nie. Die reservaat is ontwerp vir rustige, lae-impak maniere om die natuur te geniet, wat besoekers toelaat om die skoonheid daarvan te ervaar sonder om die ekosisteem te benadeel.

Sal honde toegelaat word?

L
K

Honde sal op die hoof Voëlklip-pad toegelaat word, maar nie op die staproetes nie. Dit verseker dat die natuurlewe en sensitiewe habitatte ongestoord bly terwyl honde-eienaars steeds dele van die reservaat kan geniet.

Sal fietse toegelaat word?

L
K

Ja. Fietse sal slegs op die hoof Voëlklip-pad toegelaat word, en nie op die staproetes nie.

Sal daar ’n koste wees om die reservaat te besoek?

L
K

In hierdie stadium is toegang gratis. In die toekoms kan ’n klein fooi moontlik ingestel word om instandhouding en bedryfkostes te help dek. Toegang te voet sal altyd gratis bly, hoewel ’n klein fooi vir voertuigtoegang van toepassing kan wees sodra toegangsbeheer geïmplementeer is.

Is die ou skietbaan nog in werking?

L
K

Nee. Die Heroldsbaai-skietklub het jare gelede gesluit, en die ou skietbaan is in 2018 amptelik buite werking gestel. Die gebied vorm nou deel van die reservaat, en geen vuurwapenaktiwiteit van enige aard word toegelaat nie.

Watter ekosisteme word in die Heroldsbaai-natuurreservaat beskerm?

L
K

Die reservaat beskerm verskeie waardevolle en unieke ekosisteme, insluitend die krities bedreigde Tuinroete Granietfynbos, die bedreigde Groot Brak Duine Strandveld, sowel as dele van die Wes-Kaapse Melkhoutwoud, vleilande, kranse en valleie.

 

Watter spesies kom in die reservaat voor?

L
K

Die reservaat huisves meer as 225 plantspesies, insluitend bedreigde orgideë soos Disa hallackii en vetplante soos Lampranthus pauciflorus. Meer as 100 voëlspesies is aangeteken, insluitend die Knysnaspeg en trekduiker. Soogdiere soos die groototter en bosbok word gereeld gesien, saam met reptiele soos pofadders en die Suidelike klipkoggelmander.

Hoe word uitheemse indringerplante bestuur?

L
K

Ons volg ’n geïntegreerde bestuursplan om die natuurlike ekosisteem te herstel. Teen November 2025 is meer as 100 hektaar reeds skoongemaak van indringerspesies soos denne, swartwattel, hakea en rooikrans. Die skoongemaakte gebiede word gerehabiliteer met inheemse plante om die terugkeer van natuurlike fynbos en natuurlewe aan te moedig.

Hoe sal brande bestuur word?

L
K

Vuur is ’n noodsaaklike deel van die fynbos-ekosisteem, maar moet uiters versigtig hanteer word. Die reservaat sal beheerde brande uitvoer, brandpaaie in stand hou en verseker dat alle personeel opgelei en toegerus is vir veilige brandbestuur. Hierdie maatreëls sal beide die omgewing en besoekers beskerm.

Kan plaaslike inwoners deelneem?

L
K

Ja. Gemeenskapsbetrokkenheid is een van die hoekstene van die reservaat se sukses. Inwoners word aangemoedig om deel te neem aan die verwydering van indringerplante, die instandhouding van staproetes, skoonmaakdae en opvoedkundige aktiwiteite. Gereelde openbare geleenthede vir deelname sal gehou word soos die reservaat se bestuursplan vorder, en terugvoer sal deur vergaderings, nuusbriewe en die webtuiste gedeel word. Almal se deelname sal help om te verseker dat die Heroldsbaai Natuurreservaat ’n gedeelde, lewende bate vir toekomstige geslagte bly.